‘n Man koop ‘n opblaaspop. Hy bestel die pop by www.opblaaspop.com. Die koerier lewer een woensdagmiddag, toe sy vrou en kinders nie tuis is nie, die bestelde pakkie af. Hy reël spesiaal daardie middag met sy werk dat hy vroeg kan afneem om sy nuwe aankoop in te wag. Hy kom opgewonde en uitasem by die huis aan en hoop dat hy betyds is. Daar is, soos reeds vermeld, niemand tuis nie en die huis is stil en koel. Hy gaan na sy studeerkamer en loop onseker tussen sy lessenaar en die rusbank teen die muur. Vir twintig minute kan die man aan niks kom nie terwyl hy wag vir die koms van sy pakkie.
Toe hy naderhand begin wonder wie eerste by die huis gaan wees, sy vrou of die koerier, lui die deurklokkie.
Hy stap vinnig die gang af, maak die voordeur oop, glimlag vriendelik vir die koerier, teken en neem sy pakkie in besit. Dis ‘n groterige doos en hy sukkel om die pakkie in die studeerkamer te kry. Hy sit die pakkie op die vloer neer, maak die deur versigtig toe en vee die fyn sweetdruppels wat op sy bo-lip vorm met die agterkant van sy hand af.
Hy tree effens terug en neem die doos in aanskou. Stadig vorm ‘n glimlag om sy mond en besef hy wat die gevoel in sy maag is – dis nie die pap tunatoebroodjie wat sy vrou die oggend vir hom werk toe gegee het soos hy vroeër gedink het nie. Nee, dis pure, kinderlike opgewonderheid.
Hy loop na sy lessenaar en haal sy papiermes uit die boonste laai. Versigtig begin hy die papier wat om die doos is afhaal, maar gou skeur hy sommer rof die papier weg om vinniger te maak. Dit is ‘n veelkleurige doos met groot, bont Chinese karakters op. In sy agterkop tref dit hom dat mens nie eintlik sal kan raai wat die inhoud van die pakkie is as jy nie weet nie.
Stadig maak hy die doos se deksel oop en snak vir ‘n oomblik na sy asem. Daar lê sy. Te pragtig. Hy tel haar versigtig uit en skop die doos eenkant toe. Hy draai haar om en om in sy hande. Sy’s mooi en getooi in rooi knippies, stroopsoet en tjoepstil. Net wat hy wou gehad het. Na verdere ondersoek, sien hy dat behalwe vir ‘n klein stempeltjie op haar boud wat sê “made in China”, sy verder anatomies korrek is.
Hy hoor sy vrou se kar in die karpad opry en maak sy pragtige opblaaspop sit op die rusbank. Hy maak gou die papier en doos bymekaar, sit dit eenkant in die hoek om later van ontslae te raak en gee sy pop nog ‘n laaste kyk voor hy gou uitloop en die deur agter hom sluit. Hy sit die sleutel versigtig in sy sak en loop sy gelukkige eggenoot en pragtige kinders tegemoet.
Na ure se geselsies met sy vrou en ‘n drukkie vir elke kind, kan hy uiteindelik sonder vrae weer sy studeerkamer in verdwyn. Hy maak die deur saggies oop en loer na die bank (so asof sy opblaaspop sou geskuif het). Hy skakel die lig op die lessenaar aan, trek gou die gordyne toe en gaan sit langs sy pop op die bank haar en betrag.
Sy’s pragtig, dink hy. Net waarvan hy hou in ‘n vrou. Wel, pop. Sy’s fyn, met lang okkerneutkleurige hare wat speels oor haar tepels hang en die mooiste, rooiste lippe wat hy hom kan voorstel. Hy wonder vir ‘n oomblik onbevange of sy nie dalk koud kry nie. Sy sit dan nog immers die heeltyd kaal hier langs hom, behalwe vir die rooi knippies natuurlik.
Hy trek die kombersie van agter op die bank se rugleuning nader en drappeer dit om haar skouers. Hy sal vir haar moet klere kry, dink hy vaagweg, maar sy sal seker meestal sonder klere in sy geselskap wees, verwerp hy meteens die gedagte.
Hy’s byna skaam, so asof hy op ‘n eerste afspraak is. ‘n Naam, dink die man triomfantlik. Dis wat sy nodig het. Wat van Venus? Nee, te dramaties. Annie, nee dit klink weer soos die St. John’s Ambulance oefenpop. Ragel? Te Bybels. Helga? Weer te Germaans. Aphrodite, gee hy weer die mitologie ‘n probeerslag. Steeds dramaties, maar dit pas by haar. Godin van die liefde - dis wat sy vir hom is.
Nou dat sy ‘n naam het, voel die man dat hy haar kan aanspreek.
“Wat van ‘n stukkie musiek?” vra hy skugter.
Aphrodite kyk hom stil aan en hy neem haar geheimsinnige Mona Lisa glimlaggie as instemming.
“Goed, musiek.” sê hy en spring op.
Hy spring amper die tafeltjie langs die bank om en vang net betyds die kershouer wat daarop staan voor dit omval. Hy is so verbouereerd dat hy eers die kompakskyf op die mat laat val voor hy dit uiteindelik in die masjien kry. Met musiek om hom en Aphrodite effens te kalmeer, gaan sit hy weer langs haar.
Hy wil nou nie voorbarig wees nie, maar hy het immers twee weke gewag op Aphrodite se koms. Hy sit sy hand liggies op haar dy. Sy is verbasend stewig en lewensgetrou, dink hy met genoegdoening. Sy hand begin stadig op beweeg tussen haar bene in, maar net voor sy vingers in die donker haartjies verstrengel raak, keer hy homself. Nee, nou gedra hy homself darem soos ‘n buffel.
Aphrodite se lang wimpers hang dromerig oor haar okkerneutbruin oë (byna dieselfde kleur as haar hare). Hy neem dit onmiddelik as ‘n uitnodiging en leun lomperig vorentoe en plant ‘n nat soen op haar mond. Haar lippe is vol en plomp en tot sy verbasing gaan haar mond effentjies oop. Sy stel beslis in hom belang, dink hy terwyl die lus in hom groei. Hy leun weer vorentoe, hierdie keer effens stadiger en meer beheersd. Hy soen haar sag en innig en hy voel hoe haar lyf teen hom warm word.
Die volgende dag kan die man skaars konsentreer by die werk. Sy gedagtes is gevul deur Aphrodite. Hy weet as hy baie gou maak, kan hy weer so ‘n half uur of so voor sy vrou en kinders by die huis wees. Hy praat skaars met sy kollegas en jaag so gou by die katoor uit dat hy amper die sekretaresse uit die aarde uit hardloop.
By die huis haas hy homself by die voordeur in en haal haastig die studeerkamer se sleutel uit sy sak. Toe die deur oopswaai, sit Aphrodite reeds met haar bedeesde glimlag op hom en wag. Hy pluk sy baadjie uit, slaan die deur toe en storm op die bank af. Net voor hy haar gryp en op die bang neertrek, bedink hy homself en gaan sit eers stil langs haar. Hy kyk lank in haar oë in, wat vandag ‘n byna rooi skynsel het. Toe hy homself nie langer kan beteuel nie, trek hy Aphrodite nader en soen haar met soveel jare se vasgekeerde passie dat hy dit self omtrent nie kan beheer nie. Aphrodite soen innig terug en die man kan sy geluk nie glo nie.
So verloop die man en Aphrodite se samesyn vir ‘n paar dae vurig en passievol. Hy herontdek luste in homself wat hy gedink het jare gelede aan’t sterwe gekom het. Elke middag as hy die studeerkamer oopsluit, sit sy daar met afwagting – gereed en gedweë. Hy verwonder homself aan die perfektheid van hul verhouding. Aphrodite is sowaar die perfekte vrou.
Een middag is die man pas klaar gevry met sy liefling, toe hy kan sweer dat sy iets gesê het. Hy ruk terug, struikel amper oor die broek om sy enkels en kyk Aphrodite verdwaas aan. Lank kyk hy haar diep in die oë, maar geen woord word weer oor daai wellustige lippe geuiter nie. Hy trek vinnig sy broek op, kyk vlugtig om hom rond en vlug uit sy studeerkamer uit.
Dit neem ‘n volle twee dae voor hy weer vir Aphrodite nader. Toe hy daardie middag die studeerkamer binnegaan, sit Aphrodite steeds daar met ‘n glimlag om haar sensuele lippe. Hy draai om om die deur te sluit en wonder waaroor hy getwyfel het. Sy lyk nog presies dieselfde (al begin haar hare ‘n bietjie deurmekaar lyk en een van die rooi knippies is weg).
Toe hy weereens wellustig op haar afstorm, steek hy skielik in sy spore vas. Daar is iets in haar oë, dink hy. Hy kan net nie sy vinger daarop sit nie. Hy staan haar ‘n rukkie so en bekyk, toe hy besef dat hy heeltemal laf is en pluk haar van die bank af en naai haar sommer van agter op die lessenaar. Toe hy uitgeput langs haar op die bank neerval, hoor die man skielik ‘n diep sug uit Aphrodite se poppebors ontsnap. Hy stoot haar vurig van hom af weg en storm by die studeerkamer uit, direk die stort in.
Vir ‘n week lank, sit die man bedags in sy kantoor en staar na die studeerkamersleutel. Hy wil haar so graag weer sien, maar verbeel hy homself? Toon sy emosie? Was dit ‘n traan wat hy nou die dag oor haar wang sien biggel het?
Daardie middag stap die man eers in sy sitkamer na die drankkabinet en skink vir homself ‘n stywe whiskey. Met die dop in die een hand en die sleutel in die ander, stap hy doelgerig op die studeerkamerdeur af. Hy steek die sleutel in die slot en draai dit knarsend oop.
Aphrodite sit in al haar glorie in die laatmiddag son op die bank.
“Verruklik!” dink die man.
Hy neem ‘n groot sluk uit die glas en sit dit hard op die lessenaar neer. Hy kyk haar gewelddadig van daar af aan en stap dan doelgerig op haar af. Toe hy bo-oor haar staan, besig om sy gordel los te maak, kyk Aphrodite smekend op.
“Kan ons eers gesels?”
Die man steier agteruit en slaan die lamp en whiskeyglas aan’t skerwe van die lessenaar af. In die proses sny hy sy hand oop dat die bloed uit die diep sny uit pols. Hy staar in absolute walging na die sny op sy hand en dan na Aphrodite. Hy hardloop na haar toe en gryp haar aan haar hare beet. Sy staar hom verskrik aan, terwyl die bloed uit sy wond op haar skoot drup en stadig met haar dy afloop. Hy kyk af na hierdie rooisel en gooi haar op die bank neer.
“Ek het dan ‘n vrou!” Skree hy vir niemand in besonder nie.
Hy vlieg om en hardloop by die studeerkamer uit. In die kombuis, grou hy in die messelaai, totdat hy afkom op die vleismes. Mes in hand, hardloop hy terug na waar Aphrodite naak, bloeiend en eensaam ineengekrimp in die hoek van die bank sit.
Die man storm waansinnig op haar af en stoot die mes met soveel geweld in haar bors in dat hy die bank agter haar tref.
“Jy’s nie veronderstel om ‘n hart te hê nie!” Skreeu hy terwyl hy haar borskas oopruk en vaskyk in die ligpienk, so amper vleeskleurige binnewand van die opblaaspop voor hom.