‘n Man en sy Lover koop ‘n kis. So ‘n antieke, Indoniesiese kis. Dis hul eerste meubelstuk wat hulle saam koop. Binnekort trek hy by haar in en begin hul lewe saam. Kort na die aankoop van die kis en met meeste van sy goed al in haar huis, besluit die man om nie meer by haar in te trek nie en eerder by sy vrou en kinders te bly. Sy vrou salig onder die indruk dat dit die laaste sien van die Lover is.
Soos die lewe nou maar is en die afskeid moeilik, begin die verhouding weer. Hy klim soggens vroeg van die bus af en kom klim by haar in die bed. Of smiddae, lê hulle weer behaaglik in mekaar se arms. Die Lover raak op ‘n dag moeg vir hierdie speletjie en besluit om finaal die verhouding te verbreek. Sy pak sy boek oor Tantra en sy portfolio met al sy sketse in ‘n groot, bruin koevert en gaan gooi dit in ‘n aksie van protes en afsluiting oor sy muur.
Die man en sy Lover het egter weer daarna kontak en dit blyk dat hy nooit die koevert gekry het nie. Sy vrou beweer sy weet niks van die aflewering nie, maar die Lover vermoed sy het die koevert reguit asblik toe gestuur.
Gedurende al hierdie gebeure, staan die antieke kis nog al die tyd in die Lover se huis. Die man het egter haar helfde van die kis uitgekoop, as gevolg van die finansiële verknorsing wat al sy leuens en oneerlikheid haar in geplaas het. Aan die een kant is die teenwoordigheid van die kis nog so half ‘n skakel tussen haar en die man en aan die ander kant hoop sy heimlik dat hy as skadevergoeding die kis vir haar sal los.
Op ‘n sonnige, winters Donderdagmiddag, kom vry die man weer sy Lover. Dis die wonderlikste, mees intieme seks wat hulle ooit gehad het. Op die hoogste piek van hul passie, gee die Lover vir die man ‘n liefdesbyt wat ‘n groot, pers merk in sy nek laat. Sy het nie eers besef sy doen dit nie, maar toe hy so langs haar lê, sien sy die merk en wonder hoe hy dít aan sy vrou gaan verduidelik.
Dan begin hy praat. Hy het besluit hy gaan nooit skei nie, want sy kinders kry te seer en sy verhouding is vir die eerste keer in jare goed met hulle. Hy het tot hierdie besluit gekom nadat sy skooltyd vriend en buurman by hom en sy vrou kom kuier het en vertel het hoe sý egskeiding sy kinders geaffekteer het.
Die Lover is in skok. Sy het juis vir hom gesê as daar nie ‘n toekoms is nie, wil sy verder nie weer kontak met hom hê nie. Sy het gedink hierdie middag van passie beteken dat hy tog vir haar lief is en hul toekoms saam wil smee. Sy huil en hy begin praat. Op die ou end is dit weer dieselfde storie. Hy gaan sy lewe uitsorteer, hy is so lief vir haar. Hy sal hulp kry. Hulle verlaat mekaar op ‘n noot van hoop en antisipasie. Hy sms haar weer pragtige liefdeswoorde en bedank haar vir die gesels en haar insig.
Die Maandagaand is sy net oppad uit saam met ‘n vriend, toe haar foon lui. Dis die man. Hy kom sy kis haal. Die Lover is te geskok om ‘n woord uit te kry. Dit maak geen sin nie. Na hul gesprek Donderdag, het sy uiteindelik gedink dinge is aan die verander. En toe dit. Sy sit die foon neer en gaan staan voor die kis.
Die Lover gaan staan voor die kis en maak haar oë toe. Al haar liefde, seerkry, trane en alleenheid stort sy op die kis uit. Dit trek soos ‘n swart mis deur die krake en groewe van die kis en gaan lê diep in die ligte, amberkleurige hout. Die kis kreun effentjies en toe is alles om haar stil.
Die deurklok lui en daar staan die man. Hy is abnormaal opgewek. Die Lover is stil en intens. Sy weier om te help dra aan die kis en die man dra op sy eie die sware kis af met die trappe. Die kis is op sigself swaar, maar weeg nog swaarder vanweë die ongelooflike seerkry wat hy met hom saamdra.
Die Lover verwyt die man vir sy optrede. Sy wonder watse leuen oor die oorsprong van die kis hy nou weer vir sy vrou gaan opdis. Hy vertel haar dat wat hy aan sy vrou vertel tog niks met haar te make het nie en dit is dan immers sý kis. Haar optrede is volgens hom geheel en al irrasioneel.
Soos hy by die deur uitloop, weet sy dis die laaste keer wat sy ooit die man sal sien. Hy sukkel onder die gewig van die kis na sy motor en sy sien dit as sy gesukkel onder die las van al sy leuens en oneerlikheid. Sy voel byna jammer vir sy vrou.
* * *
‘n Man kom op ‘n koue Maandagaand by die huis met ‘n antieke kis. Hy vertel vir sy vrou dat hy die kis by ‘n vriend gekoop het. Sy bewonder die kis en voeg dit by die ander items in hul reeds tot oorlopens toe vol huis. Dis ‘n groot, swaar, Indoniesiese kis wat kreun en steun onder sy eie gewig en beweging. Die vrou kyk so na die kis en kan sweer sy hoor die kis sug. Sy skud net haar kop, dink dis seker net haar verbeelding en gaan weer aan in die kombuis.
Die volgende dag loop die vrou verby die kis. Iets trek haar aandag. Die huis is stil en leeg, maar sy kon sweer sy hoor weer die kis sug. Dis seker maar net die hout wat in die koue inmekaarkrimp of iets.
So gaan die dae verby. Partykeer kruip daar ‘n paar wurms oor die kis. Die vrou betugtig die bediende dat sy nie ordentlik skoonmaak nie en dam summier die kis met ‘n blik Mr. Min by. Sy vryf en spuit en spuit en vryf en probeer om van die effense suur reuk wat om die kis hang ontslae te raak.
Toe sy weer die volgende dag verby die kis loop, sien sy die kis verdonker. Op plekke slaan daar byna swart kolle op die kis uit. Sy kan nie seker wees nie, maar sy dink nie die kis was so gevlek toe haar man hom die aand daar aangebring het nie. Sy voel ‘n toenemende angstigheid in haar posvat. Sy kom veral agter dat as sy in die vertrek is waar die kis staan, raak sy depresief en tranerig. Voel dit of ‘n ongelooflike melancholie oor haar kom.
Daardie aand vra sy haar man waar hy nou weer die kis gekry het. By ‘n vriend, hy het haar dan vertel, is sy antwoord. Sy antwoord stel haar glad nie gerus nie. Dis asof sy hom nie glo nie. Hulle raak al hoe meer krapperig en agressief met mekaar en daagliks lyk dit of die kis donkerder en donkerder word. Dis byna asof die kis van binne af verteer word deur ‘n swartheid, ‘n emosionel donkerte van pyn en trane.
Die kinders begin die angs in die huis aanvoel. Die jongste dogtertjie weier om in die vertrek te kom waar die kis staan. Sy loop draaie om die ding en dis asof sy iets weet wat die ander nie weet nie.
Die onmin en haat broei en word naderhand verterend. Die man raak byna van sy kop af en die vrou kap hom al hoe meer. Op ‘n aand raak die spanning onuithoudbaar. Die vrou gil en krap aan hom. Hy stamp haar weg en sy val met haar kop teen ‘n sement borsbeeld wat op die vloer staan. Die hoek tref haar slaap en ‘n donker stroom bloed drup deur haar hare. Haar oë staar stil en glasig in die rigting van die kis.
Die man staan in afgryse na die toneel voor hom en staar. Die kinders kom ingehardloop en sien hul ma in ‘n poel bloed op die grond lê. Hulle gil hartverskeurend en hol by die voordeur uit. Hulle kry die hek oop en hardloop in die straat in net toe ‘n groot Fortuner met ‘n vaart om die draai gery kom. Die bestuurder ry reeds te vinnig en sien glad nie die twee dogtertjies totdat hulle sy voorruit tref nie. Albei op slag dood.
Die man hoor die slag en die geskree van bande en hardloop na buite. ‘n By vlieg by een van die gate uit die kis uit en agter nie man aan. Hy is allergies vir bye, maar in sy huidige toestand sien hy nie eers die by nie. Nog een volg die eerste by en daarna ‘n hele swerm wat by elke krakie en opening in die kis te voorksyn kom. Dis asof die kis lewe.
Die bye swerm om die man saam en begin steek. Hy maak dit tot by die hek en sien die bloederige lyke van sy twee kinders op die teer lê. Voordat die gif deur sy are beur en sy hart gaan staan, besef die man wat hy gedoen het. Besef hy wat sy leuens en oneerlikheid veroorsaak het. Met die pyn van hierdie gedagte en die beeld van sy geliefde kinders wat leweloos daar lê, sak hy in die karpad ineen, morsdood.
‘n Hartverskeurende, onaardse geluid breek uit die kis uit. Dis iets tussen ‘n skreeu en ‘n tjank. Met die uitlating van hierdie kreet, bars die kis in vlamme uit. Dis ‘n witwarm, verterende vuur en binne sekondes is al wat oorbly van die kis, ‘n hopie as.
En vier lyke.