Klipstandbeeldman

Diep in ‘n bos, nie ver van hier af nie, stap ‘n bosnimf een middag terug huis toe.  Sy talm op die blaretapyt en kyk hoe die son deur die boomtoppe filter.  Dis so mooi, dink sy by haarself.  Sy is nog besig om so te droom en te huppel toe sy skielik iets interessants gewaar.  Voor haar, agter ‘n klomp bosse is daar iets wat vir haar soos ‘n groot klip lyk. 

Sy huppel oor om te gaan ondersoek instel en word sommer lus om die rots te klim om te sien wat sy so tussen die blare deur sal kan sien.  Toe sy nader kom, sien sy die rots is toegegroei onder klimplante.  Terwyl sy nog so kyk vir vastrapplek, sien sy iets onder die blare uitsteek wat lyk soos ‘n hand.  Dis eienaardig, dink sy en trek ‘n kloes van die rankplant weg.

Sy sien dat dit wel ‘n hand is en dat die hand sowaar aan ‘n arm vas is!  Sy begin onmiddellik meer van die plant wegtrek en onthul ‘n skouer, torso, bene – sowaar feitlik ‘n hele mens.  Sy gee die bol blare in haar hande ‘n laaste, harde pluk en die koekerasie val van die brëe skouers af en onthul ‘n man.  Wel, nie geheel en al ‘n man nie, want hy is dan nou wel klip, maar ‘n klipstandbeeld van ‘n man.

Sy verwonder haar aan hierdie pragtige beeld en stap om en om terwyl sy liggies aan die koue klip streel.  Sy gaan staan op die ou end reg voor die beeld en kyk hom diep en intens aan. 

“So, hoe het jy hier gekom?”

Die koue klipbeeld staan voor haar, maar sy word skielik bewus van ‘n gedagte wat in haar kop inpop.  Sy dink sy verbeel haar dat die beeld haar vra om hom te soen.

“Jou soen?  Maar, jy’s dan nie ‘n padda nie!” giggel sy by haarself.  Sy kyk die beeld weer aan en sien dat dit eintlik ‘n baie mooi beeld is.  Sterk en fors, maar dis asof die skouers effens hang en sy kannie die hartseer kyk in die afdraande oë miskyk nie.

“Hmmm” dink sy by haarself. 

Na ‘n kort argument met haarself oor wat sy moontlik kan ontketen as sy die beeld soen, besluit sy tog om die kans te vat.  Sy klim op ‘n rots wat voor die beelds staan en strek vorentoe om ‘n ligte soentjie op die mond van die standbeeld te plaas.  Sy spring sommer gou van die klip af en tree terug.  Sy weet genoeg van haar familie se fantastiese geskiedenis om niks ligtelik op te neem nie.

Eers gebeur daar niks nie en die gedagte dat die gode haar nie ook enige spesiale kragte gegee het nie, kom weereens, soos so baie kere van tevore, by haar op.  Sy gaan sit op ‘n hopie droë blare, sit haar ken op haar kniëe en hou die beeld dop.  Haar gedagtes dwaal ‘n bietjie af as sy onthou dat sy toe nooit daardie mandjie bessies gepluk het wat haar aanvanklike rede vir hierdie wandeling deur die bos was nie.  Terwyl haar gedagtes so dwaal, kom sy nie agter dat die klipbeeld voor haar effens verkleur nie.  Toe sy weer met konsentrasie na die beeld kyk, sien sy ‘n defnitiewe pienkerige skynsel wat onder die grys deurskemer.  ‘n Klein fronsie verskyn tussen haar donker wenkbroue.

            Sy staan stadig op, sonder om haar oë van die beeld af te haal en loop baie versigtig nader.  Sy steek haar hand uit en raak liggies aan die beeld se bors.  Sy skrik haar boeglam (nie dat dit snaaks is nie, want sy skrik nogal maklik) toe sy die hitte voel wat uit die borskas straal.  Sy pluk haar hand weg en gaan staan weer so entjie weg en staar die beeld, nou met volkome belangstelling, aan.

            Sy sien hoe die beeld al hoe sagter word en hoe die hare en oë verdonker van ‘n koue grys, na ‘n warm, sjokoladebruin.  Sy bekyk die baard om die sagte lippe en die rooierige skynsel wat sy net-net in die baard kan sien.  Dan sien sy hoe die oë stadig begin knip, die kop wat stadig draai – eers na die een kant, dan na die ander, die regter arm wat net ‘n fraksie beweeg voor ‘n lang sug uit die brëe borskas uit ontsnap.

            “Hello,”  kom die ryk, diep stem uit die Standbeeldman.

            Salmakis aarsel net ‘n oomblik voor sy wegtrek met ‘n rits vrae.

            “Hi.  Wie’s jy en hoe het jy hier gekom en hoekom was jy ‘n standbeeld?  Hoe lank is jy al so?  Kry jy nie koud nie?  Is jy styfgesit?”

            Die Standbeeldman kyk haar net aan en wonder wie hierdie rare nimf is wat hier voor hom staan en so ongelooflik baie vrae vra.

            “Het ek my verbeel, of het jy my wel gegroet?  Hoekom is jy nou skielik so stil?” vra sy met konsternasie.

            Hy kyk haar weer so vir ‘n rukkie aan en net toe die nimf begin wonder of sy besig is om haar kluts kwyt te raak, praat die Beeldman uiteindelik weer.

            “Ja, ek het gepraat.  Wie is jy?”

            “Ek’s Salmakis.” 

            Die beeldman frons. 

            “Salmakis wat so agter Hermafroditus aan was en hom toe sommer een gemaak het met haar?”

            “Nee man, dit was my groot oumagrootjie.  Sy was so bietjie getik.  Die vrouens in ons familie het maar so ‘n passievolle streep weg.”

            Klipman kyk haar weer so ‘n rukkie aan en Salmakis begin so half ongemaklik rondskuif.  ‘n Sonstraal breek deur die blaresambreel en val momenteel op Salmakis se bos krulle.  Vir die Klipman is dit skielik asof haar hare in vlamme verander het.  Sy oë versag en hy besef skielik dat hy die arme Salmakis vreeslik ongemaklik maak deur sy stilswyende gestaar.

            “Uhm.” Begin hy weer lomp, want hy’s snaaksgenoeg nie vreeslik gewoond aan praat nie.

“So, Salmakis, het jy ‘n van?”  suig hy sommer iets uit sy duim uit om iets te sê.

“Hie”, giggel Salmakis vir die vraag wat so baie mense al gevra het.

“Dis eintlik snaaks dat jy vra.  Mense dink mos altyd onse mitologiese figure is soos popsterre en gaan net so onder een naam, soos Cher of Sting.  Die Grotes maak maar net of hulle so special is en Zeus sal dooi as iemand weet hy het eintlik ook ‘n van.  Dis iets soos Van der Merwe of Luidt, maar hy wil nooit sê nie.  Myne is Naudé.  Salmakis Naudé.”

Hulle kyk mekaar weer so ‘n rukkie aan.

“Hoekom was jy ‘n standbeeld?  Wie het jy kwaad gemaak?” vra Salmakis voor die Klipbeeldman haar weer ongemaklik staar.

“Vyftien jaar gelede het ek getrou met ‘n vrou wat my net wou gebruik het vir my kinderverwekkende kwaliteite.  Sommer kort na die troue, toe sy gekry het wat sy wou gehad het, verander sy my toe in ‘n standbeeld en hier sit ek van toe af.”

“Haai, maar dis vreeslik” sê Salmakis soos ‘n tannie oor ‘n koppie soet rooibostee met warm melk.

“Ek bedoel, dis terrible.  Is daar niks wat jy kon doen nie?”

“Nee, ek moes maar wag totdat ‘n nuuskierige bosnimf soos jy hier verbytrippel en my wakker soen!” sê hy met ‘n glimlag in sy stem.

Die son begin al hoe verder uit die bos uit trek en Salmakis word skielik bewus van ‘n kouerige donkerte wat begin nader kruip.  Sy kyk die Klipman so en voel ineens vreeslik jammer vir hom. 

“Kom, ek sal jou huis toe vat.”

“Nee!” skree die Beeldman vinnig.  Salmakis skrik so half vir sy dringendheid en gee ‘n klein trëetjie agteruit.  Die Standbeeldman sien dat hy haar skrikmaak met sy kwaaiheid en voeg dan by, “Nee, ek kan nie die bos verlaat nie.  As ek uit die bos uit loop sal ek onmiddellik dood neerslaan.”

“Sjoe, maar jy moes seker woes gewees het in jou vorige lewe om só ‘n dubbele betowering op jou te kry.  Nou maar goed, dan sien ek jou weer môre.  Sal jy OK wees hier in die bos?”

“Ek is nie meer ‘n standbeeld nie, so ek dink ek sal baie goed vaar.  Ek kan in die nag bietjie die bos verken en my stywe litte rek.  En natuurlik uitsien na jou koms môre.”

“Nou maar goed, totsiens.”  Salmakis draai net om om weg te trippel huis toe, toe die Beeldman weer praat.

“Gee my net weer ‘n soentjie.  Net sodat ek nie dalk weer in die nag in ‘n standbeeld verander nie!”

Salmakis kyk hom so half onseker aan.  Hy ís baie mooi en sy wil hom graag weer soen, dink sy.  Sy skraap haar moed bymekaar, trippel skamerig vorentoe en plant ‘n vinnige soentjie op sy warm wang.  Voor sy nog behoorlik teruggetree het, voel sy die koue wat in ‘n vlaag oor haar spoel en sien sy die Klipman het weer in ‘n standbeeld verander.  Sy laat ‘n klein gilletjie van skrik uit, vlieg om en hardloop uit die bos uit al die pad huis toe.

Daardie aand kan sy die Beeldman en sy hartseer oë nie uit haar kop uit kry nie.  Hoe kan ‘n vrou dit aan so ‘n mooi man doen?  Alhoewel sy hom verskriklik bejammer, is daar tog iets in haar wat wonder of die Beeldman heeltemal onskuldig is.  Sal ‘n vrou werklik haar eggenoot in ‘n Klipstandbeeld verander? 

 

Die volgende oggend hardloop Salmakis sommer met die eerste sonstrale terug bos toe.  Van ver af sien sy al die standbeeld.  Sy gaan staan eers agter ‘n boom en betrag hom ‘n tydjie voor sy stadig nader sluip.  Toe sy voor hom gaan staan, is hy steeds net so koud en grys soos die eerste keer toe sy die rankplante van hom afgetrek het.  Sy steek versigtig haar hand uit en raak aan die koue kliphand wat stil langs die sy lê.  Dis glad en koud onder haar vingers. 

“Die geheim lê seker in die soen,” dink sy by haarself.

Sy gaan staan op haar tone en soen die koue, kliplippe saggies.  Wonderbaarlik vloei die hitte weer deur die klip, totdat Klipman weer in sy lewende gedaante voor haar staan.

“Dankie.  Ek het gedink ek gaan weer vyftien jaar moet wag vir ‘n soen.”

En so het Beeldman en Salmakis elke dag in die woud saamgekuier en elke middag om vyfuur het Beeldman weer in sy standbeeld-weergawe van homself versteen.  Naweke, het Salmakis tot haar skok agtergekom, het ‘n soen Beeldman ook nie lewendig gemaak nie.  Net weeksdae tussen ses  in die oggend en vyf in die middag.  Sy het party naweke vir ure voor sy klipvoete gesit en snik en gehoop en bid dat die liters warm trane wat oor sy voete vloei hom mirakelagtig lewendig sou maak, maar tevergeefs.  Party Maandae, as sy Klipman weer wakker gesoen gekry het, en sy met dikgehuilde oë voor hom gesit het, het hy haar net snaakserig aangekyk en dan verder gesels oor hoe bly hy is dat sy hom gesoen het, want hy het dan ‘n soen so nodig gehad. 

Daar was dae wat Salmakis en Standbeeldman soos ou getroudes gekuier en gelag het.  Hulle het saam deur die bos gewandel, ou bouvalle tussen die bome verken en bessies gepluk vir middagete.  Dan het hulle in mekaar se arms gelê en gekyk na die doiliepatrone wat die son deur die blare maak.  Die sagte briesie deur die blare was soos die mooiste simfonie in hul ore.

“Jy het my weer lewendig gemaak,” sê Beeldman eendag vir Salmakis.

“Ja, maar ook net tot vyfuur smiddae!” roep Salmakis ontsteld uit.  Want, het sy aftergekom, die Beeldman het nie vanwëe haar soen weer in ‘n standbeeld verander nie, maar sommer vanself as die klok vyfuur slaan.  Die eerste keer se soen en beeldvorming was toe al die tyd toevallig.

“Dis tog beter as niks, dan nie, my lief?” het hy saggies in haar oor gefluister.  Vir ‘n ruk lank was dit genoeg vir Salmakis, maar sy het self alleen net buite die bos gebly en sy wou so graag hê hierdie Beeldman moet haar snags kom warm hou.  Net soos hy ‘n soen nodig gehad het om hom lewendig te maak, het sy gesmag na ‘n warm liefde wat háár weer volkome mensnimf sou maak.  Maar, om die vrede te bewaar het sy maar net geknik en weer teen die hitte van sy bors gaan lê.

Vir maande het hul saamwees ‘n patroon aangeneem.  Salmakis was nie ekstaties gelukkig nie, maar sy was lief vir die Beeldman en sou hom eerder so sien as gladnie.  Eendag het Salmakis egter besluit dat dinge nie so kan aangaan nie.  Sy kon nie elke aand alleen deur die bos die wolwe trotseer, terwyl die Beeldman rustig weer in klip verander nie.  Iets moes gedoen word.

“Daar is ‘n manier wat ek weer mens kan word.” Sê Beeldman toe Salmakis die onderwerp aanroer.

“Nou maar, wat moet ons doen?” vra sy ewe opgewonde.

“Nee, jy kan my ongelukkig nie hiermee help nie.  Dis iets wat ek self moet doen.”

“Maar wat moet jy doen?” vra Salmakis met wye oë.

“Reg aan die Suide kant van die bos is daar ‘n rivier.  Aan die oorkant van die rivier woon my vrou, Medusa.  As ek haar smeek om vryheid, sal sy dit dalk oorweeg.”

“Maar dis so maklik,” gil Salmakis opgewonde, “hoekom het ons dit nie al lankal gedoen nie?”

“Nee, ek is bevrees Medusa is een van die Gorgone.  As iemand net na haar kyk, verander hulle in klip – kyk maar na my.  Maar, sy is ‘n wonderlike ma...” dwaal Klipman momenteel van die punt af. 

“Ek moet Kerberos se afstammelinge in die water trotseer voordat ek eers met haar sal kan praat, dan sal ek haar 600 goue stawe moet betaal.  En as ek dit reggekry het, moet ek haar nog kan oortuig dat ek weer my kinders wil sien en dis slegs as ek nie éérs dood neerslaan as ek die bos probeer verlaat nie!”

Salmakis se hart sak in haar voete in (sy het nie skoene aan nie).  Sy weet die Stanbeeldman hou van haar en geniet hul middae saam, maar sy weet nie of hy die gevreeste Medusa en Kerberossies sal aanvat vir haar nie. 

Klipman sien haar ontsteltenis en vat dramaties aan sy bors.

“Sjoe, maar hoe kry ek nou hartkloppings.  Kom ons praat oor iets moois.”

Salmakis is glad nie tevrede met die einde van hierdie gesprek nie, maar vat weer liefderik Beeldman se hand.

Vir weke kuier hulle maar weer voort en Salmakis probeer om die groeiende ongemak binne haar te ignoreer.  Klipman vertel haar daagliks dat hy so gelukkig is by haar, dat hy wens hy vir ewig saam met haar kan wees en dat hulle so bedoel is vir mekaar dat hulle verseker eendag saam sal moet sterf, want die ander sal beslis van ‘n gebroke hart kwyn as dit nie die geval is nie. 

Salmakis wil so graag haar Klipman glo.  Sy wil nie na haar vriendinne luister wat vir haar vertel dat standbeelde wat mens in die bos lewendig soen die geneigdheid het om maar stories te spin en dat hulle eintlik heel gelukkig is met hul standbeeldbestaan.  Sy wil ook omtrent histeries word toe ‘n ander vriendin haar eendag vra of sy nie dink Standbeeldman het dalk ‘n ander nimf wat hom op dae wat sy nie in die bos is, lewendig soen nie.

Sy vertel vir Klipman wat haar vriende en familie van Klipmanne sê.  Hy kyk haar net stil-stil aan. 

“Jy moenie luister wat al die mense sê nie.”

Dan soen hy haar weer innig en die gesprek is, vir eers, vergete.

“Jy is my lover, my geliefde, my ewige beminde,” prewel hy saggies in haar oor.

Sy voel gevly, maar kan net nie meer die gevoel van haar afskud dat haar Beeldman met haar speel nie.  Hoekom wil hy nie vir Medusa konfronteer nie?  En sy het gehoor Kerberos se familielede in die rivier moet net reg hanteer word.

Salmakis probeer keer op keer as sy ongelukkig is met Klipbeeldman praat, maar hy sit haar al hoe meer net en aankyk soos ‘n buffel op die Afrikavlaktes.  Hoe meer sy praat, hoe meer onttrek hy hom uit haar lewe en by tye kan sy nie onthou of sy hom daardie dag al lewend gesoen het en of hy nog klip is wat hier voor haar sit nie.

Soos die dae verbysleep, raak Salmakis al hoe ongelukkiger en meer verward.  Klipman sê hy is lief vir haar, maar hy doen net mooi niks daaromtrent nie. 

Wonderbaarlik raak Klipman een Sondag lewendig toe Salmakis weer probeer om hom wakker te soen en dit voel of al haar krismisse tegelyk gekom het.  Sy probeer sommer weer die volgende Sondag, maar dit werk nie weer vir weke nie.  Toe sy hom weer op ‘n lieflike Sondag lewendig gesoen kry, kan hy haar ekstase nie verstaan nie en sê dan:

“Maar, ons kuier dan elke Sondag saam.”

Salmakis kyk hom fronsend aan.  Is Klipman dalk verward?  Dis dan die tweede keer wat sy dit regkry om hom die soen van sy lewe te gee op ‘n Sondag.  Hy kyk haar weer so donker en buffelagtig aan en Salmakis raak skoon bang vir haar lieflike Klipman.  Sy probeer vergeefs met hom praat.  Vir hom verduidelik dat hy besig is om haar te vernietig deur sy klipagtige, onbeweegbaarheid.  Steeds bly hy stil.  Sy wil weet of hy al uitgevind het hoe om die 600 goue stukke by Medusa te kry en of ou Kerberos nie met sy familie in die rivier kan onderhandel nie.  Hy staar haar net aan. 

Met betraande oë kyk Salmakis haar Wonderklipman aan.  Sy kan nie glo dat hy dit aan haar doen nie.  Sy kan nie glo dat hy soveel mooi dinge aan haar gesê het en sy geglo het dat sy die enigste een is wat hom kon lewindig soen nie.  Sy besef met ‘n swaar hart dat hy dalk gelukkig is as die Klipbeeldman van die bos.  Mense wat deur die bos stap bewonder hom en weet hy is Medusa se man en hul kinders se pa.  Hulle kyk na sy fors skouers van klip en hulle sien die krag, maar hulle kyk nie mooi na die afdraande oë nie.  Na die treurigheid wat uit die klip uit straal nie.  Nee, solank hulle hom sien as gesinsklipman, beskermklipman, eggenootklipman en huisklipman, is alles in die haak.

Sy draai stadig om.  Baie traag en baie seer begin Salmakis uit die bos uit stap.  As sy nou haar groot oumagrootjie was, het sy een of ander mal ding aangevang soos een geword met die standbeeld en sommer tweeslagtig geword, maar vir al daai drama sien sy nie kans nie.  Sy besef daar is niks binne haar normale, ongoddellike vermoë wat sy kan doen nie. 

Sy kyk vir oulaas om en sien hoe die grysheid weer oor haar Klipman vloei.  ‘n Traan biggel oor haar wang toe sy die bos agter haar laat en besef sy is weer alleen.  Haar grootgrootjie het tog ‘n punt gehad, dink sy toe sy met ses knoppe in haar keel die voordeur van haar pragtige, maar lëe huisie, agter haar toetrek.


Alternatieve eindes