Kama gedigte
Descartes Revisisted
Jy los vir my
‘n digbundel
in ‘n bruin koevert.
Voorop,
my naam
in jou handskrif.
Later
lees ek en
onthou jou
in die glas witwyn voor my.
Die neonligte van Langstraat
val skuins deur die venster en
gee die vertrek
‘n sepia skynsel.
Tussen al die ou geliefdes,
soek ek na stukkies onthou,
‘n bestaansreg in woorde –
jy skryf,
dus het ek vir jou bestaan.
Ek neem’n laaste sluk en
sterf
deur jou
‘n dood sonder woorde.