'n Sprokie vir Katryn

Eendag, lank, lank gelede (soos elke goeie sprokie moet begin), het daar ‘n Koning geleef.  Hy het aan die voet van ‘n berg gebly in ‘n kasteel saam met sy dogter, Katryn en sy twee groot waghonde, CaesaR en Perriwinkle.

Die kasteel het tussen baie bome gestaan en rankplante het woes en wild om die kasteel gegroei.  Dit was ‘n paradys.  Die Koning was ‘n groot, sterk, donker man wat bedags drake en monsters beveg het.  Saans het hy en Katryn voor ‘n groot vuur in die kasteel se sitkamer gesit en stories vertel of gesels.  As die Koning partykeer nie moes gaan drake veg nie, het hulle deur die bosse en berge van die koningkryk gery en na al die mooi dinge om hulle gekyk. 

Die Koning het ‘n groot, swart hings gehad met ‘n blink huid en Katryn het die mooiste, wit eenhoring gehad wat haar pa vir haar uit Persië saamgebring het van een van sy reise af.  Die eenhoring het groen oë gehad soos smaragte en haar gepunte horing het goud geblink in die sonlig.  Sy het lang wimpers gehad en haar kartelende stert het amper tot op die grond gehang.

Katryn was natuurlik ‘n Prinses, omdat haar pa die Koning was en sy was te pragtig.  Sy het lang, byna swart krul hare gehad, die mooiste donker oë soos haar pa en sy het te mooi gelyk as sy op haar eenhoring langs haar pa gery het.  Sy was baie lief vir hom en sy het geweet sy sal altyd veilig wees, want hy sal altyd daar wees om haar te beskerm.  En as hy nie op die presiese oomblik by haar was as sy hom nodig gehad het nie, sou hy binne enkele oomblikke ‘n boodskap van sy onderdane gekry het en so gou as moontlik na haar toe gehaas het.

Eendag gaan ry Katryn en die Koning weer op hul perd en eenhoring deur die bos toe ‘n by op die Koning se arm land en hom steek.  Onmiddellik raak die Koning in ‘n diepe slaap en Katryn weet nie wat aangaan nie.  Die Koning se helpers is gou by hulle en laat kom dadelik die Towenares Cybele om hom te help.  Cybele gee die Koning ‘n spesiale towermiddel wat teen die bye se gif  werk en die Koning uit sy diepe slaap sal uitlig. 

Daardie nag is Katryn so ontsteld.  Haar pa was dan veronderstel om onsterflik te wees.  Sy het langs sy bed gestaan en neergekyk op sy slapende gesig.  In haar hart kon sy hoor hoe hy in pyn na haar roep, maar daar was niks wat sy daaraan kon doen nie.  Sy het by die deur uitgehardloop en al die pad met die berg opgehardloop om bo, op ‘n groot klip onder die maanlig te sit en huil.  Sy het nie eers besef dat sy kaalvoet is nie en toe sy bo kom, was haar voete vol snye en het die bloed oor die sagte, wit vel van haar voete op die grond gedrup. 

Net soos Katryn haar pa se pyn kon aanvoel, kon die Koning deur sy diepe slaap Isabel se pyn en bekommernis oor hom ook aanvoel.  Hy het geweet sy het haarself seergemaak en dit het sy hart gebreek.  Dit was asof hy die snye aan haar voete aan sy eie lyf gevoel het.

Toe Katryn uiteindelik weer deur die maanlig op haar seer voete terughink na die Kasteel, sit Cybele vir haar en wag in die groot sitkamer voor die knetterende vuur.  Met haar sagte oë en fluweelagtige stem nooi sy Katryn om by haar te kom sit:

“Kom kind, vee daardie trane af.”

“Maar hoekom is die bye dan so naar dat hulle Daddy gesteek het?  Hy is dan ‘n goeie Koning en al die mense, diere en insekte is dan lief vir hom,” huil Katryn in Cybele se skoot. 

Cybele streel oor Isabel se donker krulle en begin haar vertel van die ou heks wat in die bos gebly het toe die Koning nog ‘n klein seuntjie was en in die kasteel saam met sý ma en pa gebly het. 

Die Koning was ‘n stout klein Prinsie en het daarvan gehou om in die bos in te sluip en poetse op die ou heks te bak.  Eendag het die ou heks besluit genoeg is genoeg en bedink toe ‘n slinkse plan.  Sy spreek ‘n towerspreuk oor die Prinsie uit dat al die bye in die bos hom moet steek as hy weer naby haar huis kom.  Sy het ‘n poeier op die wind gestrooi en dit het in al die bye in die land se oë gewaai. 

Kort daarna is die ou heks dood en die Prinsie is na ‘n skool gestuur in ‘n ander streek om te gaan leer hoe om eendag ‘n goeie Koning te wees.  Dit was blote omstandghede wat veroorsaak het dat die Koning nie weer vir jare in die bos met enige van die bye in aanraking gekom het nie.  Omdat die ou heks destyds so skielik dood is en die Prinsie toe weg is, het sy nooit die towerspreuk van die bye gelig nie en toe die bye daardie oggend vir Isabel en die Koning gewaar, onthou hulle wat die ou heks van hulle wou gehad het en steek toe die Koning.

Die Koning het vanwëe die ou heks se towerspreuk in ‘n diepe slaap van 100 jaar geval. 

“Maar, Isabel,” sê Cybele sag, “ek het ‘n baie sterk teengif towermiddel vir jou Pa gegee wat hom uit sy diepe slaap gelig het en hom weer gesond gaan maak.  Môre gaan ek ook ‘n nuwe towerspreuk oor die bye laat wat sal verseker dat jou pa nooit weer in daardie slaap verval as ‘n by hom steek nie.”

Isabel het effens beter gevoel na Cybele se woorde, maar sy was steeds baie bekommerd.  Cybele het haar gehelp om haar voete skoon te maak en te verbind en haar toe saggies aan die slaap geneurie terwyl sy gewerk het aan haar eie towerspreuk vir die bye.

Vroeg die volgende oggend, toe die son sy eerste strale oor die Koningkryk gegooi het, het Cybele op die dak van die Kasteel uitgeloop en haar eie towerpoeier op die wind gestrooi om oor die bye te waai.  Toe die poeier die eertse by tref, ontbind dit onmiddellik die towerkrag van die ou heks en is dit asof die bye self uit ‘n diepe slaap wakker word.  Soos een, besef die bye skielik wat gebeur het en dat een van hulle die Koning seergemaak het.  Hulle was so skaam dat hulle onmiddellik na die Kasteel gevlieg het om met die Koning te gaan praat. 

Cybele het nog op die dak gestaan toe die eerste bye om haar kom sirkel.  In ‘n tweede, effens groter groepie, het die Koningin By aangekom en op die muurtjie voor Cybele gaan sit:

“Goeiemore Cybele, ons kom in skaamte en berou om met die Koning te kom praat.”

“Goeiemore, Koningin By.” Groet Cybele sag.  “Ek waardeer die gebaar, maar die Koning is nog baie swak van die gif in sy gestel.  U kan gerus met my praat en ek sal die booskap aan hom oordra.”

“Die By-skappy wil die Koning innig om verskoning vra dat een van ons hom leed aangedoen het.  Ons was nog onder die towerkrag van die ou heks.  Om op te maak vir ons aaklige daad, gaan ons hom vergoed met hierdie flessie Koninklike Byserum, gemaak deur my,” verduidelik die Koningin By saggies en oorhandig ‘n klein flessie Koninklike Byserum aan Cybele.

“Hierdie Byserum sal verseker dat die koning nooit weer deur ons gif geraak word nie, maar hy sal ook van ons eienskappe aanneem wat hom fikser, sterker, gesonder en wyser as ooit sal maak.”

“Baie dankie, Koningin By.  Ek sal dit aan die Koning oorhandig.” 

Cybele en die bye het mekaar gegroet en Cybele het omgedraai om die nuus aan Isabel en die Koning te gaan oordra.

Toe Cybele by die Koning aankom, was hy al wakker.  Sy kon sien dat haar towermiddel gewerk het en sy lewe gered het.  Sy vertel die Koning kortliks van haar gesprek met die Koningin By en dat sy haar eie Koninklike Byserum vir hom gestuur het as betaling vir hul aaklige daad.  Die Koning het onmiddellik daarvan geneem en van toe af ook in ‘n klein, goue flessie om sy nek daarvan saamgedra.

Hy het sommer gou gevoel hoe sy kragte herstel en opgespring om vir Isabel die wonderlike nuus te gaan gee.  Hy moes haar ook gaan vertel van die wonderlike kragte wat hy opgedoen het asgevolg van die bye se Koninklike Byserum wat in sy bloed opgeneem is.

Katryn spring dadelik op van waar sy onder ‘n groot boom in die tuin sit en lees toe sy haar pa by die trappies van die Kasteel sien afkom.  Caesar en Perriwinkle wat langs haar gelê het, harloop na hom toe en lek sy hande papnat uit blydskap dat hy weer beter is.  Katryn val hom om die nek en saam gaan sit hulle weer onder die boom.

“Ek is so bly Daddy is weer gesond,” sê Katryn byna in trane. 

“Ja Katryntjie, ek is en ek sal nooit weer so siek word van ‘n bysteek nie.  Hulle het vir my van hulle magiese kragte oorgedra in hierdie Koninklike Byserum wat ek in hierdie botteltjie om my nek het.  Hulle het nie bedoel om my seer te maak nie.  Dit was net as gevolg van die towerspreuk wat oor hulle uitgespreek was.  Die by is simbolies van die siel en terwyl ek aan die slaap was, het ek die onderwêreld besoek en geweldig baie kennis opgedoen.” Verduidelik die Koning mooi aan Isabel.

“Maar ek dog Daddy gaan doodgaan,” sê Katryn met ‘n bewerige stemmetjie.

“Nee, Katryn, ek het net geslaap.  My siel het ‘n bietjie gaan rondloop sonder my liggaam en met die Koninklike Byserum wat ek nou in my bloed het, het die bye vir my van hul kragte oorgedra.  Hulle het aan my toegewydheid, wysheid, welsprekendheid, kreatiwiteit en rykdom gegee.  So, ek het net ‘n beter, sterker mens geword.”

Isabel was so verheug, want sy was so lief vir haar Pa en wou nie hê hy moet ooit weer seerkry nie.

“Maar, Katryn, ek is nou gesond.  Nou moet jy my belowe dat jy nie jouself weer gaan seermaak nie.  Dit maak my hart baie seer as jy seerkry.” Praat die koning saggies met sy dogtertjie.

“Ek belowe Daddy.  Ek het nie geweet dit maak Daddy so seer nie.”

Van daardie dag af was Isabel nooit weer bang dat haar Pa in ‘n diepe slaap van 100 jaar sou verval nie.  Sy het ook geweet dat met sy nuwe kragte wat die bye hom gegee het, hy ‘n beter, sterker, liefliker Koning en pa sou wees.

As eer aan die Bye vir hul geskenk aan hom en om te bewys dat hy nie kwade gevoelens teenoor hulle behou het nie, het hy ‘n By die wapen van die Koningryk gemaak.  Hy het van toe af bekend gestaan as die Koning van die Heuningryk.