Ce n'est pas une pipe

Ek wens ek kon vir jou

‘n liefdesgedig skryf

vol sentimentele

soetsappighede.

 

‘n Gedig

wat vir jou sou sê

hoe ek jóú mis

as ek alleen is.

 

‘n Bladsy vol woorde

wat die plek sou kon neem

van ‘n glas wyn

in die maanlig,

of  dans op die maat

van veraf musiek.

Dalk sou ons iewers

op ‘n strand kon stap,

of langs mekaar

wakker word

op ‘n reënerige oggend.

 

Maar soetsappigheid

is nutteloos

en my hart

kry onsinniglik koud –

so op my mou.