Kama gedigte
Ce n'est pas une pipe
Ek wens ek kon vir jou
‘n liefdesgedig skryf
vol sentimentele
soetsappighede.
‘n Gedig
wat vir jou sou sê
hoe ek jóú mis
as ek alleen is.
‘n Bladsy vol woorde
wat die plek sou kon neem
van ‘n glas wyn
in die maanlig,
of dans op die maat
van veraf musiek.
Dalk sou ons iewers
op ‘n strand kon stap,
of langs mekaar
wakker word
op ‘n reënerige oggend.
Maar soetsappigheid
is nutteloos
en my hart
kry onsinniglik koud –
so op my mou.