Ek kyk deur die blindings na
die Lesbian troue in die vertrek langsaan.
Hulle druk en soen
en lyk gelukkig.
Soos Pamela Ewing in Dallas
wil ek wakker word
en besef Bobby is toe nooit dood.
Dit was net ‘n droom.
Die ekonoom voor praat oor
die sub-prima krisis
en die blou vissie swem
tussen die borreltjies deur
verby die pers koraal.
Ek mis mense uit my verlede.
Ek dink aan ‘n boyfriend
van laerskooldae wat
familiemoord gepleeg het.
Ontwikkelde lande onttrek
finansiële steun uit
ontluikende markte -
soos jy in die 1ste kwartaal van 2010
jou onttrek het uit hierdie
buitensporige tendens
van die liefde.
En daar swem die blou vissie weer,
terwyl ‘n ander vis
wat soos Jacob Zuma lyk
in die hoek hang en sexy wees.
Ek wil wakker word
uit hierdie surrealistiese nagmerrie
en besef dit was net
April fool’s.