“Waar’s die naaste swembad?”
“By die skool net hier in die pad af.” Hy kyk haar stip aan en sy weet presies wat in sy kop aangaan.
“Kom.” Sy voel die opwinding in haar opbruis soos vonkelwyn wat te vinning in ‘n glas gegooi word. Sy haal ‘n handdoek uit die kas. Sy gryp haar sleutel en trek die deur agter hulle toe. Neil is al halfpad by die trappe af. Sy val langs hom in en hulle glip in die donker by die hekkie uit.
Die straat is stil. Die lug is dik, klewerig, met die reuke van somer. Yesterday-today-and-tomorrow, dink Cara toe sy opkyk en die maan in die lug sien sit. Volmaan, natuurlik. Die maan lyk so swaar en naby, asof dit moeite kos om daar te bly hang. Hulle loop verby ‘n huis waar daar gekuier word. Stemme en musiek meng met die aandreuke.
Hulle bereik die skool. Dis donker. “Ek is seker ons mag nie hier wees nie.” Sy giggel vir haar eie simpel stelling. Die hoofhek is gesluit. Hulle loop na die volgende hek. Ook gesluit. ‘n Entjie verder is die voetgangerhekkie. Daar’s geen slot aan nie. Cara voel soos ‘n dief wat sopas ‘n kluis vol diamante ontdek het. Hulle loop by die tennisbaan verby en klim die trappies af tot by die swambad. Die water beweeg en vir ‘n oomblik dink Cara iemand het hulle voorgespring, maar dis net ‘n kolgans wat op byna surrealistiese wyse in die maanlig baai. Hy gewaar hulle en spring die donker binne.
Cara loop na die kant en steek haar hand in. Die water is byna liggaamstemeratuur. Snaaksgenoeg loop hulle na die aantrekhokkies. Dis gelsuit, maar dit voel reg om juis daar uit te trek. Skielik voel sy skaam. Neil is al feitlik uit sy klere. Voor sy nog kan wonder of hy dit werklik gaan doen, stroop Neil sy onderbroek af en hardloop die donker in. In die maanlig sien Cara die bleekheid van sy lyf. Die water het amper tot stilstand gekom na die vertrek van die kolgans en Neil sak geluidloos in. Skielik verdwyn hy onder die water. Sy voel simpel, so in die kol lig met die handdoek in haar hand. Sy gooi die handdoek neer en trek haar skoene uit. Dis ‘n begin. Sy loop na die donker kant van die swembad. Neil kom op en kyk van die ander kant af vir haar. “Toe nou”, maan hy haar.
“OK” Voor sy verder kan wonder, stroop sy haar broek en broekie gelyk af. Sy haal haar bril af en sit die bo-op die hopie klere neer. Die helderheid van die aand vervaag ietwat sonder die bril. Sy voel vryer daarsonder, so asof die vyeblare nog veilig in plek is. Sy pluk die t-shirt oor haar kop en haak haar bra los. Sy klim in en swem tot by Neil. Dis donker, dink sy. Die maan blink op die water. Hy sal beslis niks kan sien nie. Stil-stil swem hulle om mekaar rond. Daar’s nie eintlik iets om te sê nie.
“Dit raak koud” sê Neil en swem na die kant.
“Ja”
Hulle klim uit en Cara tel haar hopie klere op en hou dit voor haar. Sy kan nog nie haar bril op sit nie. Dit sal die vaagheid van die oomblik bederf en sy is nog nie gereed vir helderheid nie. Die handdoek lê mooi netjies in die middel van die kol lig voor die aantrekhokkie. Neil loop skaamteloos soontoe, tel die handdoek op en droog hom af. Hy draai om en hou die handdoek vir haar oop. Sy laat val die hopie klere en laat toe dat hy die handdoek om haar skouers sit. Hy omvou haar saam met die handdoek in sy arms. Sy voel die hitte van sy lyf deur die natterige handdoek.
“Jy’t nog steeds vir my die mooiste borste.”
Dit was toe nie so donker nie. Sy maak haar oë toe.
“Neil, ons kan dit nie meer doen nie.”
“Hoekom nie?” vra Neil, dood onskuldig.
“Want jy’s nou verloof.”