Terminaal

Die brandewyn

dryf deur my are,

begogel my brein en

breek my immuniteit af.

Die virus van jou

versprei weer deur my liggaam.

 

Jy ignoreer jouself

in die vergetelheid in,

ek begin stadig herstel.

Nou klou jou reuk

weer aan my lakens.

 

Jou teenwoordigheid

oorweldig my,

eindig my remissie.

 

Pomp my hart vol chemo,

vergiftig die virus,

maak dood en

sny die kankeragtige knoets

uit my borskas.

 

Jy maak my siek –

maar soos ‘n psigopaat

voel jy vere.