Die Mot

‘n Mot vlieg in ‘n vrou se oor in.  Dis nie ‘n groot mot nie, om die waarheid te sê, is dit ‘n redelike klein mot.  Die vrou skrik haar boeglam.  Sy spring op en skud haar kop om die mot te probeer uitskud.  Al die aktiwiteit maak die mot net nog meer angsbevange in sy nuwe staat van gevangenskap.  Aangesien sy ‘n redelike slim vrou is, onthou sy dat motte aangetrokke is tot die lig.  Sy soek gou die flits en skakel al die ligte uit.  Met die flits teen haar oor, probeer sy die mot met lig omkoop om uit te kruip.

            Teen dié tyd, is die mot al so verwar dat hy behoorlik verdwaal in al die pypies en kanale waarin hy hom bevind.  Hy is eers vies oor die onverwagse wending wat sy nagtelike lig-skapades geneem het, maar na ‘n ruk besef hy hoe fassinerend sy nuwe omgewing is.  Dieper en dieper wandel die mot, totdat die vrou uit pure uitputting en frustrasie besluit om te gaan slaap.

            Die volgende oggend word die vrou wakker.  Die son skyn en die voëltjies sing en sy sien uit na die terugkoms van haar man na sy besigheidsreis.  Sy het ‘n knop van opgewondenheid op haar maag. Sy kies versigtig en noukeurig haar uitrusting en spuit haar lekkerste en duurste parfuum aan.  Daarna klim sy in haar elegante Duitse motor en ry net na die oggendverkeer na die huis in Bishopscourt wat sy vir ‘n nuwe kliënt gaan wys.

            Die man en sy vrou (wat lyk soos ‘n groot, grys bosduif met rooi kringetjies om die oë) wag al voor die imponerende oprit in Canterbury rylaan.  Beïndruk laat sy hulle ‘n uur later in haar tru-spieëltjie agter.

            Ingenome, besluit sy sommer dadelik om kantoor toe te gaan en die kontrak te finaliseer.  Sy is net mooi op dreef toe sy skielik onthou van die mot wat die vorige aand in haar oor ingevlieg het.  Sy skud so half onsinniglik haar kop, steek versigtig haar pinkie in haar oor en besluit toe maar dat die mot seker in die nag op ‘n manier uitgekom het en vergeet sommer onmiddellik van die hele aangeleentheid.

            Teen laatmiddag kom sy uiteindelik by die huis aan met ‘n bos blomme, die heerlikste geregte van die deli langs haar kantoor, ‘n pak kerse en ‘n bottel Badedas.  Haar man behoort oor ‘n uur van die lughawe af te kom.  Sy het al vanoggend die bottel Bouchard Finlayson Chardonnay in die yskas gesit, voor haar besoek aan die ginekoloog.  Sy sit haar hand oor die koue bottel in die yskas en glimlag aan die gedagte dat dit die laaste bottel van haar gunsteling wyn sal wees vir ‘n paar maande.

            Later die aand, toe sy styf teenaan haar man lê, dink sy terug aan die manier waarop sy oë in die kerslig geblink het toe sy die wonderlike nuus met hom gedeel het.

*     *     *

            Sowat 270 nagte later, op ‘n relatief warm, byna someraand, lê ‘n vrou op ‘n teaterbed in ‘n privaathospitaal teen die agterkant van Tafelberg.  Haar maag staan met ‘n ronde punt onder die groen laken.  Die dokter sit in afwagting tussen haar bene en inkyk, met ‘n skerp teaterlamp wat lig op die toneel werp.

            Na ‘n vreeslike geskree en uiters onelegante gespartel, sien die dokter uiteindelik die kop en enkele minute later is die vrou uiteindelik verlos van die wriemelende massa wat enkele oomblikke gelede nog binne haar was.

            Die dokter kyk met ‘n effende frons af na die kind in sy arms.  Vreemd hoe die kind met wydgesperde oë direk in die lig kyk, dink hy.