Valentynsdag

Ek staan en dink aan daardie dag waaraan ek probeer om nie te dink nie.  Daardie dag wat my elke jaar herinner dat ek stoksielalleen op hierdie planeet is.  Môre is dit verdomp alweer Valentynsdag.  Ek vervies my vir my simpel gedagtes en trek die kombuisdeur hard toe.  Dis ‘n ou staalraam wat nooit behoorlik toegaan nie en mens moet altyd die ding klap om hom toe te kry.  Te laat besef ek dat ek in my onsinnige Valentynsirritasie die ding te hard slaan en op daardie oomblik spat die deur in ‘n glasreën oor my aan’t skerwe.

Ek staan ‘n oomblik verstar en kyk na die skade wat ek pas aangerig het.  My gedagtes vir ‘n slag heeltemal leeggeskok.  Ek draai verdwaas om, skakel die kombuislig af en gaan sit in die sitkamer.  Vir ‘n ruk sit ek net daar.  Ek besef die tv is nog aan op een of ander onsinnige program wat ek nie besig was om te kyk nie.  Ek gryp die afstandbeheer en skakel die tv af.  Dis ontsaglik stil.  Ek kyk af en sien hoe miljoene stukkies glas op my blink. 

Die testament tot my skynbaar onbeheerbare humeur lê nog in skerwe op die kombuisvloer.  Die versoeking is sterk om net die deur toe te trek en die gemors daar te los vir môre, maar die gedagte dat ek dalk in die nag kaalvoet daar sal inwandel, my idiootlike optrede momenteel vergete, dryf my om die besem uit die kas te gaan haal.  Ek begin die gemors opvee en haal versigtig die groot skerwe uit die raam wat lyk asof hulle enige oomblik gaan uitval.  Ek staan met ‘n vlymskerp skerf in my hand en wens die ding het sommer ‘n slagaar getref om my uit my ellende te verlos.  Selfmoord deur glasskerf.  Aanloklik, maar my awersie vir pyn laat my onmiddellik van daardie gedagte afsien.

Terwyl ek die volgende dag wag vir die glasmense om die glas te kom vervang, staan ek en kyk na die skerp patrone wat blink in die son.  ‘n Ligte bries waai deur die gat.  Ek besluit om solank skottelgoed te was en ‘n bietjie op te ruim terwyl ek wag.  Met my hand in die warm seepwater soek ek eers die vleismes, jy weet, sodat ek nie dalk ‘n vinger raaksny nie.  Ek was die lem versigtig en moet weereens die versoeking weerstaan om nie sommer die ding met geweld in my hart in te druk nie.  Dramaties, moet ek toegee.  Ten minste sal mense daaroor praat as ek dood is.  Ek sal die vrou wees wat haar hart probeer uitsny het met ‘n vleismes - op Valentynsdag.    Daar is snaaksgenoeg ‘n effense glimlag om my mond toe ek myself weereens herinner aan die pynkwessie.

Toe die glas vervang is en alle spore van my moorddagdige Valentynsgedagtes verwyder is, besluit ek ek sal iets aan die karma van die vertrek moet doen.  Wieroook is my eerste opsie.  Ek gaan steek ‘n stokkie op die klavier aan die brand en kyk hoe die rokie die bose geeste verdryf.  Ek gaan staan weer in die kombuis en besluit sommer daar en dan om die kombuis te verf.  Ek kan solank die mure verf, want terwyl die putty nat is kan ek nie aan die vensterrame raak nie. 

Binne ‘n formidabele twee en ‘n half ure is die kombuis geverf, toonbanke afgevee en vloer gewas.  Ek sak gedaan op die vloer neer.  Is daar dan niks wat my merkwaardig maak nie?  My hele lewe veg ek teen ‘n sieldodende, voorstedelike bestaan, maar hoe is my lewe enigsins beter?  Dalk moes ek maar getrou het toe ek die kans gehad het.  Dalk sou twee kinders en ‘n labrador my tog gelukkig gemaak het. 

Ek weet nie hoe hierdie storie eindig nie.  Ek weet nie wat die alternatief tot voorstedelike hel is nie, as my eie bestaan vir my ‘n hel op sigself geword het. 

 

Ek leun terug met my kop teen die kombuiskas en dink aan een moontlike einde:

Sy staan stadig van die kombuisvloer af op en loop met die trappe op.  In die badkamer haal sy die botteltjie slaappille uit die medisynekassie.  Sy tap ‘n glas water en gaan sit op die kant van die bed.  Sluk vir sluk spoel sy die pille af.  Dit sou seker lekkerder gewees het met ‘n glas Chardonnay, dink sy vaagweg, maar sy het al gehoor die kombinasie van drank en slaappille laat mens net opgooi.  Sy kyk vir oulaas in haar kamer rond en gaan lê dan op haar sy.  Sy raak nogal gou aan die slaap en begin droom van ‘n hond wat op die bed spring en haar gesig lek.  Sy glimlag in haar slaap.  Happy Valentine’s Day, dink sy voor alles sag en saliglik om haar verdwyn.