Kry my op die brug

Sy kyk na die sonsopkoms oor die Helderberge vanuit die Kulula vliegtuigvenster.  Dis ‘n pragtige dag.  Die weer is perfek, maar sy voel of iemand haar hele lewe in ‘n bottle gegooi het en geskud het.  Alles is deurmekaar.  (Onthou hierdie gegewe, liewe leser, dit word later belangrik).

Vyf weke vantevore was sy in ‘n verhouding met die man van haar drome, sy het hoop gehad vir die toekoms, die nabye toekoms was redelik uitgewerk, werk het goed gegaan, sy het drie keer per week geoefen saam met ‘n klomp oulike mense en haar lewe het uiteindelik begin vorm aanneem.  Na byna twee jaar se pyn en wroeging, het sy gedink sy kry uiteindelik ‘n bietjie geluk – ‘n blaaskans van die slae wat die lewe die afgelope tyd na haar kant toe gegooi het.

Toe gebeur dit.  Alles ontrafel en verbrokkel soos ‘n bros sandroos tussen haar vingers.  Hoe meer sy probeer keer en sin maak, hoe vinniger vloei die sand, tot daar net ‘n laaste paar sandkorrels aan haar handpalms vasklou.

Hy het daardie week by haar ingetrek.  Daardie week, vyf weke vantevore.  Sy besluit was nou finaal.  Hy moet by sy vrou wegkom, dinge finaliseer, die skeisaak op dreef kry en rigting kry in sy lewe.  Vir byna twee jaar was sy in daardie verhouding.  Sy het vir haarself bly sê dis nie ‘n “affair” nie.  Dis nie sleg nie.  Dis nie lelik nie en sy is nie die een wat besig is om sy huwelik op te dinges nie.  Dit het hy en sy vrou reeds reggekry.  En soos dit vir haar geklink het, al goed reggekry vir jare.

Daar was die kinders wat haar bekommer het.  Sy het ‘n sagte plekkie gehad vir kinders.  Sy was steeds nie seker of sy haar eie spruit wou voortbring nie, maar sy het lief geraak vir sý kinders.  Sy het gefantaseer hoe hulle kom kuier en oorslaap, hoe die twee dogtertjies uiteindelik van haar sal hou en dat sy nie soos Aspoestertjie se nare stiefma verag sal word nie, maar dat sy soos ‘n cool, funky tannie of ouer niggie met rooi hare en interessante perspektiewe in hul lewe sou wees.  Sy wou daar wees vir hulle en hulle beskerm teen die aanslagte wat haar in haar lewe geraak het. 

Sy het die Saterdagaand na sy huis toe gegaan en hom gaan help pak.  Sy vrou en kinders was weg vir die naweek.  Hy moes bly vir ‘n kursus wat hy die Saterdag moes bywoon en dit was ‘n goeie tyd, volgens hom, om dan sy goed te begin trek.  Hy wou eers sy belangrikste goed trek voordat hy sy vrou sê hy trek, so obskuur soos dit klink, sodat sy nie bos raak en als vernietig nie.

Sy het help pak en selekteer en opvou en dra en by haar huis het sy help uitpak in die kas wat al weke vir hom reg was.  Skoon uitgevee, kamer herrangskik om dit gerieflik te maak vir hom, Valentynsgeskenk gereël (dit was ‘n week voor Valentynsdag), kos vir die week beplan en gekoop, nuwe handdoeke gekoop en gewas, nuwe sleutels gesny en oorhandig, huis sprankelend en oop vir die groot intrek.

Terwyl sy so help pak, wonder sy tog of dit nie ‘n skyn trek is nie.  Dit kan tog nie die belangrikste goed in sy lewe wees nie – die paar boeke en CD’s, vyf hemde, twee dasse, een paar skoene en drie onderbroeke – shame, het die man dan geen klere nie, of is hy besig om haar te bull shit?  Sy het toe maar vir hom ekstra hemde gaan koop, gewas en gestryk en dit mooi netjies in sy kas gehang by sy klere.  Sy het die boeke op die boekrak uitgepak, die CD’s in die regte genres tussen hare gesit, die DVD’s langs die tv en stadig begin om hul lewens te integreer.

Dit het haar plesier gegee.  Sy het geglimlag oor hierdie rol wat sy speel terwyl sy sy hemde gestryk het en liefderik op ‘n hanger gehang het.  As akademikus en soortvan feminis, was dit lekker om so huislik en sorgsaam te wees vir die man in haar lewe.  Sy het daagliks vir Mme. Sophie, haar kat, gesê dat hulle oor ‘n paar dae ‘n nuwe huismaat kry.  Selfs Sophie was opgewonde.  Sy het aan die klere geruik, in die kas geklim en gespin van plesier.

Net nog ‘n paar dae, het sy vir haarself bly sê elke keer as daardie knaende ongemak in haar maag kom sit het.  Hy gaan haar nie drop nie.  Hy gaan sy beloftes deurvoer. Hy is eerbaar, het sy oor en oor vir haarself bly sê.  Daardie week, vyf weke vantevore, het hy egter verder en verder van haar af gedryf.

Dis niks, het sy haarself bly vertel.  Hy gaan deur ‘n geweldige moeilike tyd.  Sy moet net vasbyt.  Oor minder as ‘n week sou al die wag agter hulle wees.  Hulle sou ‘n lang toekoms voor hulle gehad het.  Dit sou nie maklik wees nie.  Dit het sy geweet en vir droom oor vlinders en botterblommetjies was sy veels te prakties.  Die skeisaak het nog voorgelê en die kinders se welstand sou versigtig in ag geneem moes word.

Elke uur wat verbygetik het, het sy probeer om nie waansinnig te word van bekommernis dat sy absoluut niks van hom hoor nie.  Dat elke keer as sy sms om te vra of iets al gebeur het, die antwoord negatief was.  Sy wou nie bel nie.  Sy wou hom sy spasie gee om sy lewe uit te sorteer.  Sy wou nie clingy en needy voorkom nie.  Hy sou in sy tyd als uitsorteer en teen Vrydag sou hulle saam, in mekaar se arms in die bed lê. 

Sondagoggend, Valentynsdag, sou hulle langs mekaar wakker word.  Hulle sou so lê en mekaar net waardeer.  Sy sou opstaan en vir hulle gaan tee maak.  Later flapjacks met spek en stroop.  Dan sou sy vir hom sy geskenk gee – die geskenk wat sy maande beplan het en spesiaal gebêre en laat raam het dat daar iets net vir hom teen die muur sou wees.  Hy kon haar nog help om dit op te hang.

Toe kry sy die sms.  Donderdagmiddag.

Ek vertel M vanaand alles.      

Haar hart het gebokspring.  Kon dit uiteindelik alles oor wees?  Sy het daardie aand haar laaste maaltyd alleen saam met Sophie voor die tv geëet.  Sy sou nooit aan enigiemand erken dat sy alleen voor die tv sit en eet saans nie.  Langs haar kat, soos ‘n oujongnooi in krullers en pienk slippers.  Sy het gaan bad, vroeg gaan lê, ‘n paar bladsye gelees en toe omgedraai om die laaste aand alleen aan die slaap te raak.  Die Vrydagaand sou hy saam met haar na ‘n goeie vriendin se operavoordrag gaan en dan sou hulle liefde maak en in mekaar se reuk aan die slaap raak.

Sy los daardie aand haar foon aan – iets wat sy nooit doen nie.  Net ingeval hy haar nodig het en bel.  Sy vermoed so half hy gaan haar bel en dat sy hom dalk in die nag sal moet gaan oplaai.  Sy raak rustig aan die slaap en is tien teen een besig om een of ander mooi droom oor hom te droom toe die foon lui.  Die nommer is onbekend.  Sy antwoord deur die slaap.  Die foon is in die laaier ingeprop en sy moet so half oor die bedkassie leun om die ding by haar oor te kry.

Toe spat alles in ‘n duisend skerwe.  Dis sý.  Dis die vrou.  Sy noem haar op haar naam.  Sy skree op haar.  Sy vertel haar dat sy nooit weer háár man mag sien nie.  Dat as sy dit ooit weer waag om enige kontak met hom te hê sy haar sal dagvaar.  Vir huisbraak – die komedie van die misplaaste woord dring eers later tot haar deur.  Dat sy uit hul lewens moet uitbly en dat sý, sy vrou, ‘n kans moet hê om aan haar huwelik te werk.  Dat ‘n man net ‘n man is en dat die verhouding net om seks gewentel het.

Haar kop spin.  Is dit wat hy vir haar gesê het?  Is dit die slotsom?  Het hulle sáám tot daardie gevolgtrekking gekom en toe kry hy sy vrou om sy lover vir hom te dump?  Sy bel hom onmiddellik.  Hy tel op.  Sy hoor die vrou in die agtergrond. 

“Wat gaan aan?”  vra sy.

“Sy wou met jou praat.  Toe sê ek hier’s haar nommer, bel haar.”

Die foon word uit sy hand gegryp.  Weer die vrou.

“Het ek nie vir jou gesê jy mag hom nooit weer kontak nie?  Hierdie gesprek het verder niks met jou te make nie.  Jy’s nog jonk.  Kry vir jou ‘n ander man en trou met hóm.”

Sy stuur ‘n sms.

Laat my net weet wat aangaan, asseblief.

Naderhand bel sy weer.  Hy wil nie praat nie.  Hy is kwaai en onfloers.  Net nie nou nie, kan ons more praat.  Ek is omgedop.  Sy gewone antwoorde.

“Maar ek wil net weet wat aangaan.” Pleit sy.

“Net nie nou nie!”

Haar realiteit raak verwronge.  Dit kan nie wees nie.  Hy kan nie nou kies om haar uit te sluit nie.  Hy kan nie vanaand van alle aande ‘n Greta Garbo op haar trek nie.  Tensy hy natuurlik met sy vrou saamstem.  Tensy sy iets mis en hulle wel saam tot die konklusie gekom het dat hulle gaan werk aan hul huwelik.  Na al die beloftes.  Na al die hoop en liefde en “daar is te veel skade, ons sal nooit kan reconcile nie”.  Na alles, dít.

Sy slaap daardie nag glad nie.  Sy bly kyk na haar foon, kyk of hy nie dalk vir haar ‘n sms stuur nie.  Sy is vroeg op in die hoop dat hy haar dadelik van die kantoor af sal bel of dalk by haar sal aankom en verduidelik wat aangaan.  Sy moet ook die hele dag, van alle dae, ‘n kongres bywoon.  Sit en luister terwyl al wat sy wil doen, mal word is.

Sy hoor niks van hom nie.  Uit desperaatheid sms sy hom naderhand uit die lesinglokaal.  Sy kan in elk geval nie konsentreer nie.  Hoe luister ‘n mens na Koekie se “Meestersvoorstel as referaat” as die huidige oomblik van jou lewe nie eers sin maak nie.

Hy vermy die punt.  ‘n Paar smsse verloop.  Uiteindelik vra sy direk – maar wat nou, wat wil jy hê?

Ek wil by jou wees.

Haar hart gaan staan.  Sy besef sy hou haar asem op.  Vir ‘n oomblik hoor en sien sy niks om haar nie.  Dan is alles nog reg.  Hy gaan haar nie drop nie.  Hy ís eerbaar.  Hy ís lief vir haar.  Hulle gaan hierdie hel oorkom.  Sy sit haar foon weg en maak of sy luister.

Na middagete glip sy weg om sy Valentynsgeskenk te gaan oplaai.  Die verkeer is woes, soos gewoonlik op ‘n Vrydagmiddag.  Haar kar is besig om te oorverhit.  Dis warm buite, die verkeer beweeg nie en die bleddie kar oorverhit.  Kalmeer.  Dis die spanning van die afgelope week.

Nee, die kar is regtig besig om te oorverhit.  Sy maak dit tot by die raamwinkel en hoop die paar minute se rus sal genoeg wees om die kar bietjie af te koel.  Sy is nie te ver van die huis af nie en die verkeer behoort nou beter te wees.  Sy ry effens vinniger as wat sy moet om die enjin te probeer afkoel.  Dit werk nie.  Sy ruik roeserige enjinwater.  Sy hoor ‘n gesis en sy weet dis nie goed nie.  Sy trek van die pad af en gaan staan onder ‘n boom.  Die kar klink nou meer of hy skree as wat hy sis.  Sy maak die enjinkap oop en besluit om te wag dat die ding afkoel voor sy paniekbevange raak.

Sy sit en dink aan hom.  Sy sms hom.

As jy dink jou dag suck, my kar het gaan staan.

Sy sit en staar.  Hy sms.

Maak die bonnet oop.

Wow, dis nuttige inligting.  Dankie.  Sy het gehoop die feit dat sy in nood is sal hom dalk tot aksie oorhaal.  Hy sal haar bel en met haar praat.  Hy sal bekommerd wees oor haar.  Waar staan sy, is sy OK, kan hy haar kom help.  Sy kyk na haar foon – hy gaan haar enige sekonde bel en sê hy is oppad.  Sy staan in elk geval amper op sy busroete.  Dit sal maklik wees vir hom.

Die foon is stil.  Hy lui nie.  Hy sms ook nie.  Sy sit en wag.  Dis warm. 

Later trek ‘n omie af om te hoor of hy haar nie kan help nie.  Sy is gedaan en verbouereerd en dankbaar.  Hy kan nie veel doen nie, maar net die feit dat hy wóú help, help klaar.  Hulle gooi water in die kar.  Die watertenk is dolleeg.  Toe nie die waaier nie.  Moet iets met die water te doen hê.  Sy is naby die huis en dink sy sal dit maak.  Sy bedank die omie en klim in.  Sy ry.  Die kar sis weer.  Sy maak dit nie huis toe nie, maar tot by die garage om die draai van haar.  Weer die gegil.  Nou het sy die enjin opgeneuk.  Sy’s seker daarvan.

Sy wag vir ure vir die AA en vir hom om te bel.  Die AA kom eerste.  Hy bel nooit. 

Die volgende oggend moet sy weer by die kongres wees.  Sy kry ‘n lift by ‘n vriend.  Sy’s op.  Weer probeer sy konsentreer op al die kennis wat aan haar oorgedra word.  Dis onmoontlik.  Sy is moeg en seer en voel soos ‘n opgewarmde lyk.  Teen 12 uur kan sy dit nie meer hou nie.  Sy sms hom.

Laat my net asseblief weet wat aangaan.  Ek is besig om mal te word.

Sy wag.  Sy kyk elke 3 sekondes na die foon op haar skoot.  Sy hoor nie ‘n woord van wat voor gesê word nie.  Uiteindelik blink haar selfoon se lig aan. 

Ek gaan nie uittrek nie.  Dis besig om my kinders te verwoes.  Die shrink sê hy kan nie my dogter se medikasie verder verhoog nie.  Sy loop gevaar om katetonies te raak as haar sekuriteit verder verval.  Ek gaan dinge hier probeer regmaak. Pak asb my goed.  Ek kan nie met jou voortgaan nie.  M sê sy sal uit haar pad gaan om ons te verwoes as die kinders seerkry. Jammer.

Jammer.  Die woord maak nie eers vir haar sin nie.  Sy word naar.  En duiselig.  Sy moet hier uit.  Die gedreun uit die man wat voor staan se mond hou op.  Genadiglik is dit die einde van die sessie.  Dis etenspouse.  Almal staan op en skuifel by die lokaal uit.  Sy beur verby en gaan staan om die hoek en bel.  Sy bel hom om uit te vind of die sms ‘n grap is.  Daar is geen antwoord nie.  Sy bel weer.  Steeds geen antwoord nie.

Fok.  Sy het nie ‘n kar nie.  Sy bel haar vriend.  Hy moet haar asseblief nou kom haal.  Sy gaan wag op ‘n bankie in die stof voor die universiteit.  Sy bel weer en kry sy voicemail.  ‘n Histerie is besig om in haar pos te vat.  Sy begin tjank en kan naderhand nie meer omgee wie kyk en wonder nie.  Haar kop werk nie meer nie.  Als val uitmekaar. 

Valentynsoggend kan sy nie meer loop nie.  Sy besef iets is fout en met al die persoonlike drama het sy nie eers agtergekom hoe siek sy voel nie.  Sy lê in die bed en probeer beweeg.  Die kussings langs haar leeg en nog ongekreukel.  Sy krimp ineen.

Die Maandag word sy opgeneem in die hospitaal.  Rumatoïede Artritis.  Dit ook nog. Sy kan nie nou dink aan die langtermyn gevolge van die siekte nie.  Sy lê alleen in die hospitaal en tjank.  Die suster is besorgd en weet nie wat om met haar te doen nie.  Sy bly net huil.  Later skop die medikasie in en sy glip genadiglik in ‘n byna drie weke-lange emosionele dood in.  Haar ouers kom uit die Kaap om haar by te staan, sy slaap, sy onthou min, sy voel sleg dat hulle so ver gery het, dan vergeet sy dat sy sleg voel en slaap verder.

Sy ry naderhand saam met hulle terug Kaap toe.  Sy moet wegkom.  Sy moet – wat?  Sy weet nie.  En hier sit sy, byna vyf weke later en uitkyk by die venster van die vliegtuig.  Oppad terug na haar kat en haar manlose huis.  Om van voor af te begin.  Om van voor af die stukke uit die bottel uit te haal en te probeer orden tot iets wat eendag sal sin maak.


Alternatieve eindes