Kry my op die brug

En hier sit sy, byna vyf weke later en uitkyk by die venster van die vliegtuig.  Oppad terug na haar kat en haar manlose huis.  Om van voor af te begin...

            ‘n Paar weke later, terwyl sy sit en werk, lui die foon.  Dis hy.  Hy wil haar graag uitneem vir middagete.  Sy is sprakeloos.

            Hy stel voor dat hulle by Sammy Marks Huis ontmoet.  Dit was altyd húlle plek.  Moet sy hom iewers oplaai?  Nee, hy kry haar sommer daar. 

            Toe sy die volgende dag daar aankom, sit hy reeds by ‘n tafel onder die bome.  Dis een van daardie helder, koue hoëveldse wintersdae.  Hy staan op toe hy haar sien.  Hy dra ‘n swart rolnektrui en haar hart mis ‘n slag.  Hy lyk anders.  Maerder.  Sexier.  Sy donker oë blink en helder.

Hy omhels haar en druk haar styd teen hom vas.  Sy trek sy bekende reuk diep in.  Hy trek haar stoel vir haar uit.  Toe hulle oorkant mekaar sit, skuif hy ‘n koevert na haar toe.  Effens verward, maak sy dit oop en vou die papier wat sy uithaal oop.  Dis ‘n hofdatum.  Vir sy skeisaak.

Sy kyk op na hom.  Daar het nog nie veel woorde tussen hulle gewissel nie.  Hy neem haar hand in syne.

“Ek is regtig jammer vir wat ek aan jou gedoen het.  Kan jy my vergewe?”

Dit gebeur nie dikwels nie, maar vir die tweede keer in twee dae is sy sprakeloos.

“Natuurlik,” kry sy uiteindelik verby die knop in haar keel uit.

“Ek weet dinge is nog ‘n entjie van finaal af, maar ek wil nie sonder jou voortgaan nie.  Ek het uitgetrek.  En ja, ek het uiteindelik vir myself ‘n kar gekoop,” sê hy met ‘n effense glimlag soos hy kan sien hoe die vrae deur haar kop woer.  “Sien jy kans?”

“Wel, ons sal moet emigreer, want my vriende en familie wat die stukke na jou moes optel is nie jou grootste fan nie.”

“Hulle is nie nou belangrik nie.  Ek sal met hulle praat.  Sien jý kans?”

“Solank jy my nooit weer sms nie!  Hierdie keer kommunikeer ons soos grootmense en ons begin skoon.”

“Ja my lief, ek belowe.  Ek het ‘n lang pad geloop die afgelope tyd.  Ek is so jammer dat jy moes suffer asgevolg daarvan.  Ek commit nou tot jou.”

Sjoe.  Hoe lank wag sy nie vir hierdie woorde nie.  Droom sy?  Hy druk haar hand en sy keer terug tot die werklikheid.  Hy sit voor haar, haar buffel-man het jammer gesê.  Hulle het ‘n nuwe hoofstuk begin.  Nee, maak dit ‘n nuwe boek.

“As alles finaal is, doen ek dit ordentlik, maar ek hoop net jy het nog daai groen trourok van jou droom ingedagte.”

                                           

 

Finis


Alternatieve eindes