Dream a little dream...

Sy skrik wakker.  Wat het haar wakker gemaak?  Sy draai om en kyk na die wekker.  Net na ses.  Sy lê vir ‘n ruk stil en luister.  Dan hoor sy dit.  Dis die bergie in die straat onder die venster wat sy beddegoed vir die dag bêre.  Sy hoor hoe hy nou die man-hole cover terugskuif.  Dit raak al hoe vroëer lig.  Somer is alweer oppad.  Om een of ander rede depress die gedagte haar.  Sy’s ‘n winter mens.

Sy draai op haar rug en dink weer aan die droom wat sy sopas gehad het.  Alweer dieselfde droom.  Alweer die swart kar met die rooi sitplekke.  Hitte, stof en sonbesies, altyd die entonige geluid van sonbesies.  Sy kry warm en voel skielik kloustrofobies.  Sy staan op en gaan badkamer toe.  Die teels is koud onder haar kaal voete.  Sy trek haar nagrok op en gaan sit op die toilet.  Haar kop is seer.  Sy leun vorentoe en rus haar voorkop teen die koue rand van die wasbak.  Sy staan lank onder die koel stort en probeer die begin van die dag so lank as moontlik uitstel.

Later in die kombuis maak sy vir haar toast met grondboondjiebotter en ‘n koppie tee.  Sy is steeds omgekrap deur die droom.  Dis vandag Jaco se verjaarsdag.  Sy is nie lus om hom te sien nie, maar dis makliker om te gaan as om verskonings te probeer uitdink.  Sy wens sy kan terugklim in die bed.

Die dag rek toffierig voor haar uit.  Sy gee twee klasse, maar vind vandag geen konneksie met die studente nie.  As sy vandag haar eie klasse bygewoon het, sou sy seker ook gedink het sy’s ‘n slegte dosent.  Teen middagete klop haar kop.  Sy neem twee hoofpynpille en besluit om die res van die middag af te neem.  Sy los ‘n nota teen haar deur om die afspraak wat sy net na middagete met ‘n student het, te kanselleer. 

Sy gaan winkel toe en gaan soek vir Jaco ‘n geskenk.  Sy sien op na vanaand.  Sy het nie krag vir haar familie nie.  Haar ma se tranerige oë en die rooigemeerde mond wat lyk soos ‘n groot bebloede gogga wat teen haar gesig vasgevlieg en verbete daar bly sit het.  Haar pa se stem wat al hoe harder en onredeliker word.  Jaco wat haar die hele aand sal sit en uitkyk.  Kommentaar lewer oor hoeveel gewig sy aangesit of verloor het.  Hoe die klere wat sy aanhet haar vet of maer laat lyk. Hoe hy op die oomblik ‘n meisie eye  wat een van haar studente kon gewees het, hoe mooi sy is, hoe jonk sy is, hoe sy amper so lank soos hy is.

Sy besluit om vir hom ‘n jagmes te koop.  Dit pas by hom.  Of eintlik pas dit op hierdie oomblik by haar.  Sy hou gewoonlik nie daarvan om vir mense messe te gee nie.  Dit het seker maar iets met karma te doen, maar hul verhouding is in elk geval van so ‘n aard dat dit nie eientlik saak maak nie.  Sy wens die aand is verby. 

 *     *     *

Dis sondagmiddag.  Dis warm.  Sy haat warm, sondaemiddae.  Almal het te veel geëet en iewers, slapend gaan lê en verteer.  Sy vat haar pop met die lang hare en gaan klim in die kar in die motorhuis.  Sy voel hoe haar bobene teen die rooi vinyl van die sitplek klou.  Die kar ruik stowwerig.  Hy maak die agterste deur van die kar oop.  Sy skrik, al het sy hom verwag.  Hy klim langs haar in.  Hy ruik warm.  Hy sit sy hand op haar knie en gly dit al met haar bobeen op tot teen haar broekie.  Hy hou sy hand daar en sy voel ‘n onwillekeurige warmte deur haar dye trek.  Hy vat haar hand en sy voel hoe hard die buld tussen sy bene reeds is.