Die idee vir Afrikamasutra is gebore uit 'n gaping wat ek in die Afrikanerpsige of verwysingsraamwerk opgelet het.  Jy is of 'n getroude koek, of jy is 'n ongetroude tert met losse sedes en geheel en al goddeloos. 

Tradisionele sienings van godsdiens en seks het nooit vir my reg gesit nie en as gevolg van my alternatiewe denke, het ek van kleins af gevoel soos die anti-Chris.  My lewe het vreemde en ook wonderlike paadjies deur die wêreld geloop en hier sit ek vandag met 'n affair onder die belt (letterlik), en die Kama Sutra in Afrikaans, my baba Afrikamasutra!  Die afgelope paar jaar was seker die mees insiggewende en invloedryke jare van my lewe en ek wil juis daardie insigte en ervarings deel.  Ek voel deur Afrikamasutra kan ek iets sê.  Hopelik mense raak.

Ek wil 'n platvorm skep waar ons kan praat oor seksualiteit en spiritualiteit, sonder om veroordeel te word.  'n Veilige spasie waar ons onsself kan verken, soek, ondersoek en dalk selfs vind.  As jy jou koekie wil kielie (of jou tottie wil terg) terwyl jy een van die verhale op Afrikamasutra lees, sal niemand jou verdoem nie, hare gaan nie op jou hande groei nie en jy gaan beslis nie blind word of hel toe gaan nie!

Kom ons verbeel ons vir 'n oomblik daar is nie iets soos die hel nie.  Jy is mooi en goed en ons is van nature pragtige, spirituele, sensuele wesens.  Dat die Goddellike binne ons lê.  Leef vir die hier en die nou, ervaar elke oomblik asof dit die beste oomblik van jou lewe is!  Dis OK om 'n opinie te hê, te bevraagteken, te baklei, te gil, te lag, maar bowenal om lief te hê.  Ek is nie 'n dokter, dominee of sielkundige nie.  Ek is 'n mens.  Ek lees, ervaar en neem waar en dit is vanuit hierdie agtergrond wat ek skryf, vrae vra en my gedagtes met julle deel. Kom geniet die reis saam met my!